Hallo aan al die familie,
Ek dink hierdie is 'n uitstekende manier om hoogte bly van wat aangaan. Dankie vir die voorvat daarmee pa.
Sommer net 'n vinnige ietsie oor my en Dirk.
Ons is nog baie gelukkig getroud en bly al in ons tweede woonstel sedert die groot dag. Ons eerste woonstel was baie oulik en mooi, maar 'n moeilke buurman wat onder ons gewoon het, het dit onuithoudbaar gemaak om daar te bly. Ons het toe besluit om maar na iets anders te soek en bly nou in 'n splinternuwe woonstelkompleks en is baie gelukkig daar. Dit is 'n mooi eenslaapkamer plekkie, met kersiehout kaste en 'n lekker oopplan kombuis en sitkamer.
Verder is ons altwee nog besig met ons studies. Dirk is nou 5e jaar met sy teologie studies en is baie bly dat hy nog net een jaar oor het. Hy is al baie lus om met die praktyk te begin. Daar is 'n groot moontlikheid dat hy dalk aan die einde van sy studies Gobabis toe kan gaan. Hulle soek baie graag weer 'n sendeling daar en dit is sy passie om sendingwerk te gaan doen en die Boesmans le ook baie na aan sy hart. Ons glo wel die Here sal ons stuur waar Hy ons die beste kan gebruik.
Ek is self nou besig met my MComm in bemarking. Dit vorder bietjie stadiger as wat ek gehoop het, maar ek glo ek sal dit in 2 jaar kan klaarmaak. Die rede dat dit so stadig vorder is al die ander goed wat ek ook doen. Vir 'n inkomste is ek 'n deeltydse dosent by die NWU (PUK). Ek gee so 2 vakke per semester. Die vakke sluit darem bemarkingsvakke in, so dit is my studieveld. Ek werk dan ook deeltyds as bemarker by die tydskrif, Kruispad. Dit is 'n redelike nuwe tydskrif wat deur die GKSA uitgegee word vir jongmense. Ek geniet die praktiese aanwending van my studies vreeslik baie en daar is 'n moontlikheid dat ek dalk volgende jaar voltyds daar kan werk en dan hoef ek nie meer klas te gee nie. Ek dink nie ek is heeltemal uitgeknip vir klasgee nie,veral nie as daar 300 eerstejaarsgesiggies vir jou sit en staar nie. My hart klop hopeloos te vinnig en ek val dan baie oor my woorde. Maar ek het wel baie geleer daaruit hierdie jaar en my selfvertroue bietjie opgebou. As ek nie die werk by Kruispad kry nie sal ek seker maar weer volgende jaar werk soos ek nou werk.
Wel, ek hoop om gou van al die ander Oppermans ook te hoor en te hoor wat julle almal nog deesdae doen. Ek sal later 'n paar onlangse foto's ook post.
1 comment:
Dankie, Anri en Dirk, vir die jongste nuus. Julle sal 'n foto of twee van die nuwe woonplek moet pos. Ons is baie nuuskierig. Bly dat julle ontslae is van die orrelspelende buurman onder die vloer. Hoop Dirk se senuwees is nou makker twv die eksamen.
Pa
Post a Comment